Helde

deur Serena Ingamells
Laika

Die geskiedenis van lugvaart en ruimtereise is vol menslike helde soos Chuck Yaegar , Yuri Gagarin en Niel Armstrong maar daar was ook dierereisigers wat moederaarde verlaat het en ʼn bydrae tot die wetenskap gemaak het.
Alhoewel hulle rolle moontlik as passief beskou kan word bly hulle in my boek, helde.

 

Ham

Sonder hierdie eksperimente sou die mens nooit op die Maan geloop het nie maar wie sou kon dink dat die storie reeds in 1783 begin het toe die Franse broers Montgolfier met een van hulle eerste lugballonne ʼn lewendige skaap, haan en eend die lug ingestuur het? Hierdie eksperiment het voor Koning Lodewyk XVI en Marie Antoinette plaasgevind. Die vlug het 8 minute geduur en ʼn hoogte van 457 meters bereik. Al die diere is veilig teruggebring.
https://en.wikipedia.org/wiki/Montgolfier_brothers

Soos met die Montgolfiers was die vroeë ruimtewetenskaplikes bekommerd oor die mens se vermoë om die uitdagings van die ruimte te oorleef. In 1947 is vrugtevlieë met ʼn Amerikaanse V2-vuurpyl die ruimte ingestuur en veilig teruggebring. Sommige van die ander diere wat gevolg het, was minder gelukkig. Tussen die laat 1940’s en vroeë 1950’s is resusape (almal Albert genoem) gebruik om te bewys dis moontlik om ten minste ʼn op en af reis in die ruimte te oorleef. In 1957 was Laika, die pavement special van Moskou, die eerste ware ruimtereisiger aan boord Sputnik 2. Daar was genoeg kos vir ʼn week maar weens ʼn tegniese fout het die kapsule oorverhit en is sy binne
ʼn paar uur dood.
https://en.wikipedia.org/wiki/Laika

Vir my is Ham, ʼn manlike sjimpansee, saam met Laika ʼn baanbreker wat dikwels vergeet word. In 1959 het die driejarige met onderrig by NASA begin. Hy is lekkerbek met piesangblokkies beloon as hy instruksie reggekry het en met ligte elektriese skokke aan sy voetsole gestraf as hy die verkeerde hefboom getrek het. Wat hom onderskei van al die vorige diere is dat hy nie bloot ʼn passasier was nie. Sy suksesvolle toetsvlug van 16 minute en 39 sekondes op 31 Januarie 1961, het die pad vir Allan Shepard gebaan, die tweede mens en eerste Amerikaner in die ruimte.
https://en.wikipedia.org/wiki/Ham_(chimpanzee)

Hierdie dierehelde het die fondament vir menslike ruimtevaart neergelê en ons groot sprong na die volgende avontuur verseker. Ad eundum quo nemo ante iit – to boldly go where no man has gone before – dit het Laika en Ham met lof gedoen.

Comments are closed.